Amos 4:1-6 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. HOOR hierdie woord, koeie van Basan, wat op die gebergte van Samaría is! Wat die armes verdruk, die behoeftiges hard behandel; wat aan hulle here sê: Bring aan en laat ons drink!

2. Die Here Here het gesweer by sy heiligheid: Kyk, daar sal dae oor julle kom dat hulle julle met hake sal optrek en die wat van julle oor is, met vishoeke.

3. En julle sal deur bresse in die muur uittrek, elkeen sonder om weg te kyk, en julle sal weggewerp word na Harmon, spreek die Here Here.

4. Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle slagoffers in die môre en julle tiendes al om die derde dag.

5. En laat van wat gesuurd is, ’n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit, laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel, spreek die Here Here.

6. Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.

Amos 4