13. Maar Miga sê: So waar as die Here leef, wat God my sal sê, dit sal ek spreek!
14. Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hy antwoord: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en hulle sal in julle hand gegee word.
15. En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die Here tot my moet spreek nie?
16. Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die Here het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.
17. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê hy profeteer oor my niks goeds nie, maar onheil?
18. Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die Here: Ek het die Here sien sit op sy troon, terwyl al die hemelse leërskare aan sy regter- en sy linkerhand staan.
19. En die Here het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.