8. En toe Asa hierdie woorde en die profesie hoor wat Asárja, die seun van Oded, gespreek het, het hy moed geskep en die verfoeisels verwyder uit die hele land Juda en Benjamin en uit die stede wat hy op die gebergte van Efraim ingeneem het; en die altaar van die Here wat voor die voorportaal van die Here was, het hy herstel.
9. Daarop vergader hy die hele Juda en Benjamin, ook die vreemdelinge wat uit Efraim en Manasse en uit Símeon by hulle was; want uit Israel het hulle in menigte na hom oorgeloop toe hulle sien dat die Here sy God met hom was.
10. En hulle het in Jerusalem byeengekom, in die derde maand van die vyftiende jaar van die regering van Asa,