1. IN die tweede jaar van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, het Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, koning geword.
2. Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het; en negen-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Joáddan van Jerusalem.
3. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here, hoewel nie soos sy vader Dawid nie; net soos sy vader Joas gedoen het, het hy gedoen.
4. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.
5. En sodra die koningskap in sy hand bevestig was, het hy sy dienaars, die moordenaars van sy vader, die koning, omgebring.