1 Timótheüs 5:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. ’n BEJAARDE man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ’n vader, jongeres soos broers,

2. bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.

3. Eer die weduwees wat waarlik weduwees is.

4. Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.

5. En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag.

6. Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood.

7. Beveel ook hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees.

8. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.

9. Laat ’n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het

10. en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.

11. Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou

12. en kom onder ’n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het.

1 Timótheüs 5