1. VERDER dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees.
2. Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het.
3. Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery;
4. dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer,
5. nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie;
6. dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ’n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het.