3. En Saul het laer opgeslaan op die heuwel Hagíla wat vooraan die wildernis langs die pad lê, terwyl Dawid in die woestyn gebly het. Maar toe hy sien dat Saul agter hom aankom die woestyn in —
4. want Dawid het verkenners uitgestuur en verneem dat Saul verseker aankom —
5. maak Dawid hom klaar en gaan na die plek waar Saul in die laer staan; en Dawid het die plek bekyk waar Saul gaan slaap het saam met Abner, die seun van Ner, sy leërowerste; Saul het naamlik geslaap in die wa-laer, terwyl die manskappe rondom hom in die laer was.
6. En Dawid het begin spreek met Ahiméleg, die Hetiet, en met Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en gesê: Wie sal met my saam afgaan na Saul, na die laer toe? En Abísai sê: Ek sal met u saam afgaan.
7. Toe Dawid met Abísai in die nag by die manskappe kom, lê Saul daar en slaap in die wa-laer met sy spies aan sy koppenent in die grond gesteek, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê.