1. EN Dawid het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die spelonk van Adúllam; en toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom.
2. Verder het by hom vergader elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat ’n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was; en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vierhonderd man met hom saam was.
3. Vandaar gaan Dawid toe na Mispe in Moab en sê aan die koning van Moab: Laat my vader en my moeder tog uitkom by julle totdat ek weet wat God met my wil doen.
4. En hy het hulle voor die koning van Moab gebring, en hulle het by hom gebly al die dae wat Dawid in die bergvesting was.
5. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: Jy mag nie in die bergvesting bly nie; trek weg en gaan die land Juda in. En Dawid het weggetrek en in die bos Héret gekom.
6. TOE Saul hoor dat Dawid en die manne wat by hom was, opgemerk is — Saul het by Gíbea op die hoogte onder die tamarisk gesit met sy spies in sy hand, en al sy dienaars het by hom gestaan —
7. het Saul aan sy dienaars wat by hom staan, gesê: Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Ísai ook vir julle almal lande en wingerde gee, julle almal aanstel as owerstes oor duisend en owerstes oor honderd,
8. dat julle almal teen my saamspan en niemand dit aan my openbaar as my seun met die seun van Ísai ’n verbond sluit nie? en niemand van julle met my medelyde het en dit aan my openbaar dat my seun my onderdaan teen my ophits om my voor te lê, soos vandag die geval is nie?
9. Daarop antwoord Doëg, die Edomiet, wat by die dienaars van Saul staan, en sê: Ek het die seun van Ísai sien kom in Nob by Ahiméleg, die seun van Ahítub.
10. En dié het vir hom die Here geraadpleeg en hom padkos gegee; hy het ook die swaard van Góliat, die Filistyn, aan hom gegee.
11. Toe stuur die koning om Ahiméleg, die seun van Ahítub, die priester, met sy hele familie, die priesters wat in Nob was, te roep, en hulle het almal na die koning gekom.
12. En Saul het gesê: Luister tog, seun van Ahítub! Toe antwoord hy: Hier is ek, my heer!