1 Kronieke 29:22-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. En hulle het dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die Here met groot blydskap, en Salomo, die seun van Dawid, vir die tweede maal koning gemaak en as vors gesalf vir die Here en Sadok as priester gesalf.

23. So het Salomo dan op die troon van die Here gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid, en hy was voorspoedig; en die hele Israel was hom gehoorsaam.

24. En al die owerstes en die helde en selfs al die seuns van koning Dawid het hulle aan koning Salomo onderwerp.

25. En die Here het Salomo buitengewoon groot gemaak voor die oë van die hele Israel, en Hy het ’n koninklike majesteit op hom gelê wat op geen enkele koning oor Israel voor hom gewees het nie.

26. So was dan Dawid, die seun van Ísai, koning oor die hele Israel;

27. en die dae wat hy oor Israel geregeer het, was veertig jaar; in Hebron het hy sewe jaar geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig geregeer.

28. En hy het in goeie ouderdom gesterwe, afgeleef, vol rykdom en eer, en sy seun Salomo het in sy plek koning geword.

29. En die geskiedenis van koning Dawid, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad,

30. saam met sy hele koningskap en sy heldedade en die tye wat oor hom en oor Israel en oor al die koninkryke van die lande heengegaan het.

1 Kronieke 29