1 Kronieke 29:13-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.

14. Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.

15. Want ons is vreemdelinge en bywoners voor u aangesig soos al ons vaders; ons dae op die aarde is soos ’n skaduwee, en daar is geen verwagting nie.

16. Here onse God, hierdie ganse rykdom wat ons berei het om vir U, vir u heilige Naam, ’n huis te bou — dit kom uit u hand en dit behoort alles aan U.

17. En ek weet, my God, dat U die hart toets en behae het in opregtheid; ek het in die opregtheid van my hart al hierdie dinge vrywillig gegee; en nou het ek met blydskap gesien hoe u volk, hier aanwesig, vrywillig aan U gegee het.

18. Here, God van Abraham, Isak en Israel, ons vaders, bewaar dit vir ewig, so ’n gesindheid in die gedagtes van die hart van u volk, en rig hulle hart tot U;

19. en gee aan my seun Salomo ’n volkome hart om u gebooie, u getuienisse en u insettinge te hou, en om alles te doen en om die paleis te bou wat ek voorberei het.

20. Daarna het Dawid aan die hele vergadering gesê: Loof nou die Here julle God. Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle vaders, geloof; en hulle het gebuig en voor die Here en voor die koning neergeval.

21. En hulle het daardie volgende dag slagoffers aan die Here geoffer en brandoffers aan die Here gebring: duisend bulle, duisend ramme, duisend lammers, met die drankoffers daarvan, en slagoffers in menigte vir die hele Israel.

22. En hulle het dié dag geëet en gedrink voor die aangesig van die Here met groot blydskap, en Salomo, die seun van Dawid, vir die tweede maal koning gemaak en as vors gesalf vir die Here en Sadok as priester gesalf.

23. So het Salomo dan op die troon van die Here gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid, en hy was voorspoedig; en die hele Israel was hom gehoorsaam.

1 Kronieke 29