1 Kronieke 17:13-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. Ék sal vir hom ’n vader wees, en hý sal vir My ’n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie.

14. Maar Ek sal hom laat bestaan in my huis en in my koninkryk tot in ewigheid, en sy troon sal vas staan tot in ewigheid.

15. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek.

16. Toe het koning Dawid heengegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here God, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?

17. En dit was nog te gering in u oë, o God, sodat U aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek en my vorentoe as ’n reeks van mense gesien het, Here God!

18. Wat kan Dawid daar nog vir U byvoeg met die oog op die eer wat u kneg aangedoen is; en Ú ken u kneg.

19. Here, ter wille van u kneg en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak.

20. Here, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.

21. En wie is soos u volk Israel, ’n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ’n volk gaan verlos het, om vir U ’n naam te maak deur groot en vreeslike dinge, deur voor u volk uit, wat U uit Egipte verlos het, nasies te verdrywe.

22. En U het u volk Israel vir U as ’n volk tot in ewigheid gemaak; en U, Here, U het vir hulle ’n God geword.

23. Laat dan nou, Here, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, tot in ewigheid waar gemaak word, en doen soos U gespreek het.

24. Ja, laat dit waar gemaak word en laat u Naam groot word tot in ewigheid, deurdat hulle sê: Die Here van die leërskare, die God van Israel, is Israel se God, en die huis van u kneg Dawid is bestendig voor u aangesig.

25. Want U, my God, het die oor van u kneg geopen, dat U vir hom ’n huis sal stig; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om voor u aangesig te bid.

26. En nou, Here, U is God, en U het hierdie goeie saak oor u kneg gespreek.

27. Dit het U dan nou behaag om die huis van u kneg te seën om vir ewig voor u aangesig te wees; want U, Here, het geseën, en dit sal vir ewig geseënd wees.

1 Kronieke 17