15. Dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte —
16. die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
17. wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond,
18. met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle afgemete erfdeel.
19. Toe julle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
20. en hulle getrek het van nasie tot nasie, en van die een koninkryk na die ander volk,
21. het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
22. Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
23. Sing tot eer van die Here, o ganse aarde! Verkondig sy heil van dag tot dag.
24. Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.
25. Want die Here is groot en baie lofwaardig, en Hy is gedug bo al die gode.
26. Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak.
27. Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en blydskap is in sy woonplek.
28. Gee aan die Here, o geslagte van die volke, gee aan die Here eer en sterkte.
29. Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom voor sy aangesig, aanbid die Here in heilige gewaad.
30. Beef voor sy aangesig, o ganse aarde! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.
31. Laat die hemele bly wees en die aarde juig, en laat hulle onder die volke sê: Die Here is Koning!