11. Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
12. Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
13. o nageslag van Israel, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
14. Hy, die Here is onse God; oor die ganse aarde is sy oordele.
15. Dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte —
16. die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
17. wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond,
18. met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle afgemete erfdeel.
19. Toe julle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
20. en hulle getrek het van nasie tot nasie, en van die een koninkryk na die ander volk,
21. het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
22. Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
23. Sing tot eer van die Here, o ganse aarde! Verkondig sy heil van dag tot dag.
24. Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.
25. Want die Here is groot en baie lofwaardig, en Hy is gedug bo al die gode.
26. Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak.